Poskaarte uit Parys (en ander vreemde Franse verskynsels)
- Jul 29, 2015
- 2 min read

Parys. O, Parys. Die stad van lig waar inwoners die taal van liefde praat, croissants onder die Eiffeltoring eet en sjampagne langs die Seine drink – dis mos waarvan die Franse hoofstad gemaak is, nie waar nie? Ja. Pasop net dat jy nie in ’n hondebol trap met jou peperduur ballerines nie.
Ná net bietjie meer as tien maande in Parys, leer ken mens haar gewoontes. En begin jy die vreemde verskynsels in dié eerstewêreldse stad raak te sien. Want soms is Parys nes die poskaart in jou gedagtes. Ander kere, is dit ’n stad vol weirdos wat op die sypaadjies spoeg en alles per pos wil stuur.
Die Franse het ’n verwondering (lees: obsessie) met die posdiens. Alles. Word. Gepos. Van doktorsrekeninge, versekeringseise en eksamendatums, tot die bevestiging van ’n afspraak om jou visum te hernu. Gelukkig is dit ’n goed-geoliede masjien waarop almal sonder twyfel staatmaak. Toe ons landlady hoor ek sluit nie my woonadres op my CV in nie, het sy verbaas gevra: “Maar hoe gaan werkgewers jou dan kontak?!?” Sy het duidelik nog nie van e-posse of selfone gehoor nie.
Die weer. Kom ons ruim dié onderwerp uit die weg sodat ek kan aanbeweeg. Dis permanent grys hier. Mens kan die koue gewoond raak, maar hierdie Suid-Afrikaner sukkel maar met ’n tekort aan vitamien D. Die stad behoort sy bynaam te verander na: La Ville Lumière artificielle.
Kos. Sekere disse word net op spesifieke geleenthede gemaak. Gedink crêpes is ’n permanente instelling? Op straat, dalk. Maar dis meestal vir toeriste. Crêpes word eintlik net op een dag van die jaar geëet, wanneer die Franse op 2 Februarie La Chandeleur vier. Netso kan jy slegs in Kerstyd fois gras eet. En moenie eers daarvan droom om buite seisoen aan moulles frites te smul nie.
Straatmusikante (of liewer metro-musikante). Hulle het dikwels veel meer talent as heelwat dubbelplatinum Afrikaanse sangers. Dit help natuurlik dat die munisipaliteit jaarliks aan slegs 300 kunstenaars toestemming verleen om in openbare plekke soos die metro te speel. Dalk iets waarby plaaslike platemaatskappye kan leer?
Van die metro gepraat. Daar is ’n aangename stem wat elke halte aankondig. Twee keer. Die eerste keer met ’n onseker opwaartse infleksie, byna soos ’n vraag: Is dit die stasie? En dan, die tweede keer, met selfvertroue: Ja! Dit is die stasie! Probeer dit self: Hôtel de Ville? Hôtel de Ville!
Parys is vuil! Hoewel die stereotipe van swak persoonlike higiëne allesbehalwe waar is, voel die Franse ’n veer daarvoor om hul crottes de chien netso op die sypaadjies te los. En as ’n spoegstryd deel van die Olimpiese Spele was, sal Parys beslis die voorloper wees om in 2024 die gasheer te speel. Om nie eers te praat van die piepie-strepe (en reuke) wat soos graffiti teen die stadsmure sit nie.
Fotohokkies. Lank voor ’n slim Kanadees die selfie stick ontwerp het (of moontlik die idee by ’n Japanees gesteel het), het die Franse hul fotohokkies in ’n kunsvorm omskep. Op elke treinstasie, metro-halte en in elke winkelsentrum tref jy hulle aan. Waarom het mens soveel ID-foto’s nodig? Wie weet. As mens tog net die Eiffeltoring saam met jou in die hokkie kon inpas. Wie het dan tog ’n selfie stick nodig? Dis tog net vir toeriste.



Comments