Welkom tuis. Bienvenue en France.
- Oct 17, 2014
- 2 min read
Dis ’n Dinsdagmiddag en ek is op die trein, ná ’n Engelse “les” saam met die driejarige Emma (ons het vir sowat 45 minute Frozen gekyk…) Ek kyk op van my Kindle na die liggies wat die volgende stasies flitsend aandui, en dink: “Nog net drie stoppe, dan’s ek by die huis.” By die huis. In Frankryk. In Frankryk!
Dit is vandag drie dae minder as ’n maand vandat ek en Francois ons bitterlik swaar tasse (ons moes heelwat bagasie op die lughawe uitpak om aan die lugreedery se limiet van 30kg per persoon te voldoen) met ’n geplaveide straatjie van Palaiseau-stasie na ons nuwe huis toe gesleep het.
Catherine, ons landlady, het ons met ’n kus op elke wang en ’n glasie soet Marokkaanse tee verwelkom. Die volgende oggend het ons die tuinwoonstelletjie met sy sterretjieskombuis ingerig (dit het verbasend lank geneem, as jy die grootte van die plek in ag neem).
Daarna vaar ons die dorpie in. Die eerste egte Franse croissant was lekkerder as wat ons kon hoop en selfs die sterk koffie (die Franse drink skynbaar net espresso) het maklik afgegly. In byna elke venster is daar pienk, rooi en oranje wat uit blombakke peul. Dis voel soos die platteland, al is ons minder as ’n halfuur se ry uit die middestad. Twintig haarkappers in een straat en ’n vrugteverkoper wat al sy gereelde klante op die naam groet.
In die stad word ons oorweldig deur hoe enorm en mooi Notre Dame is, geboue wat opgerig is nog voor Jan van Riebeeck van die Kaap gehoor het, strate wat na filosowe vernoem is en hoe maklik ons dit regkry om te verdwaal.
Sommer vinnig raak ons gewoond aan ons nuwe wêreld: bakkerye met die heerlikste vars baguettes, treinkaartjies en busse, vars groente en vrugte wat so perfek lyk jy wonder of dit nie dalk plastiek is nie, Chinese winkelassistente wat jou groet met: “Bonjour, madame”, winkelrakke sonder rooibostee en lemoene ingevoer uit Suid-Afrika.
Daar is natuurlik baie dinge waarna ons reeds verlang: vriende en familie, die son, braaivleis, goedkoop restaurante en die uitsig oor Kaapstad van ons ou plekkie in Tamboerskloof. Maar dit moet ek erken: Ek kan nogal gewoond raak daaraan om elke dag by die plaaslike bakkery ’n baguette te koop vir middagete en op ’n Dinsdagmiddag op ’n brug oor die Seine te staan en die Eiffeltoring te bewonder. Voor ek op die trein klim, op pad huistoe.



Comments